|
Liewe Vriende
Dit is andermaal ʼn wonderlike voorreg om hierdie brief aan u te rig. Ons kyk terug oor ʼn jaar waarin ons so bewus was van die Here se teenwoordigheid hier by Glenvar.
Dit was ʼn wonderlike voorreg om met vanjaar se groep te werk en daar was deurgaans ʼn lieflike atmosfeer in die Kollege. By ons keuringskomiteevergadering was almal eens dat dit ʼn kwaliteitgroep was wat die Here vanjaar aan ons toevertrou het. Baie dankie vir u gebede vir ons.
UITREIKINGS: Ons kyk met groot dankbaarheid terug na die afgelope uitreik-aksie in die Vrystaat en Phalaborwa. Die Here het vir ons in elke opsig onderneem en ons dank die Here vir vrug wat daar op die arbeid was. Ek dink aan die kinders saam met wie daar by die skole gebid is. Van hulle het waarlik met die Here ontmoet. Daar was jongmense wat met die Here ontmoet het en wie se lewens verander het. Op Bethlehem het ons duisende gedeeltes literatuur op straat uitgegee en met mense oor die ewigheid gepraat. Die diens oor “hoop vir die gewondes” het goed afgegaan en mense het op die uitnodiging gereageer. By die een ouetehuis het ʼn tannie aan een van die studente gesê dat sy nie sekerheid van saligheid het nie. Die tannie het haar na die kamer genooi waar sy die Here aangeneem het. Ook by ʼn ander ouetehuis was van die Christene so bemoedig omdat ons saam met mense kon bid vir wie hulle al jare gebid het. Dit was so kosbaar om ʼn briefie van een van hulle te ontvang waarin sy vertel van die seën en bemoediging wat dit vir haar was. Op Frankfort was daar ʼn sangaand as ʼn poging om mense te trek en dit het nogal goed gewerk en mense was diep geroer deur die sang van die studente asook deur die samesang. Die manne-ontbyt, kerkdiens en maanddiens in Bloemfontein was soos altyd wonderlik en dit was so lekker om die belangstelling van die vriende daar te ervaar.
Die Here was waarlik met ons in Phalaborwa. Die straatwerk het besonder goed gegaan en die mense was baie ontvanklik. Van hulle het dan ook die dienste bygewoon as gevolg daarvan. Die kerkdienste op die eerste Sondag was goed en die Here het naby gekom. Sondagaand het twee mense die Here vertrou vir heiligmaking. Maandagaand het ʼn paar mense vir redding agtergebly onder andere ʼn jongman wat nooit kerk toe gegaan het nie. Hy het waarlik die Here aangeneem. ʼn Jongman en sy meisie het die dienste elke aand bygewoon. Dinsdagaand het ek gesien hy wou agterbly maar die meisie wou nie saam met hom bly nie… Hulle het boeke gekoop en is toe daar uit. Ons kon toe weer met ʼn paar mense bid oor verskillende behoeftes. By die laaste diens het die twee in mekaar se arms gestaan en huil en uiteindelik het sy huilend gesê dat sy gered wil word. Een van die studente het saam met haar gebid en Ian het die man na die Here gelei. Dit was net wonderlik om te ervaar hoe die mense saam met ons gestaan het en gretig was om die dienste by te woon. By die skole kon die studente soms die hele dag met die kinders handel en dit was treffend hoe gretig die prinsipale was dat daar onder die kinders gearbei moes word.
Ons dank die Here dat Hy ons bewaar het. Ons het oor die 12000 km afgelê en behalwe die koppelaar van een van die kombi’s, ʼn buiteband wat ons verloor het asook ʼn aansitter wat moeilikheid gegee het, het ons geen probleme ondervind nie. Ons eer die Here en dank Hom vir Sy getrouheid. Een van die Pelgrims beskryf hierdie dienste as ʼn hoogtepunt in die werk.
Eweneens was die toer in Wes-Kaap buitengewoon geseënd. Die Here het op ʼn besondere wyse in die skole gewerk. Jongmense het spontaan hulle lewens aan die Here oorgegee. Dit het ook uitgekring na ander. ʼn Matriekseun het in trane na een van die studente gekom en gevra dat hy hom moes help om die Here as Saligmaker te vind. In die koshuis het nog een soekende geraak toe hy die verandering in ander opgemerk het. Sommige het in die klas getuig wat die Here vir hulle gedoen het. Geredde onderwysers het heelhartig saamgewerk en skoolhoofde het tyd ingerig sodat daar met die skoliere gesels kon word. Een van die hoogtepunte was die jeugdiens waar byna driehonderd jongmense teenwoordig was. Wat ʼn gesig was dit om soveel jongmense in die straat te sien wag om in die kerk in te gaan. Die teenwoordigheid van die Here was byna tasbaar en na twee kostelike boodskappe en ʼn boodskap in sang, het byna ʼn derde van die gehoor agtergebly en van hulle het beslis en desperaat die Here aangeneem. Die plaaslike leraar het hierdie diens as “goddelik” beskryf. By die ouetehuis het ʼn dame in haar tagtigs die Here aangeneem as Verlosser. Die toer is afgesluit met ʼn kerkoptrede waar daar deur die bediening van sang en getuienisse opgetree is. Ook hier het die leraar sy hoogste waardering uitgespreek vir die optrede. Ons het die allerwonderlikste huisvesting en samewerking van mense gehad en baie het vir die dienste gebid. Geen wonder die Here het gewerk nie. Ongelukkig het die Kombi ratkasprobleme ontwikkel en sal dit herstel moet word. Bid dat die Here ook in hierdie behoefte sal voorsien. Bid saam vir elkeen wat met die Here ontmoet het sodat hulle Hom sal bly volg en sal toeneem in die “genade en kennis van onse Here Jesus Christus.”
AKADEMIESE VERPLIGTINGE: Die studente is nou hard besig met die laaste akademiese verpligtinge van die jaar. Daar is nog klasse en navorsingstake wat afgehandel en ingelewer moet word en dan die laaste eksamens. Dit is so heerlik om rondom die Woord van die Here te verkeer. U voorbidding vir fisiese en geestelike instaatstelling sal vir hulle baie beteken.
GEESTELIKE VORMING: Dit bly een van die belangrikste aspekte van Glenvar en hoe wonderlik om te sien hoe die Here werk in die studente se lewens en die verandering wat plaasvind. Soos Oswald Chambers, stel ons dit ook dat God in hierdie Bybelskool aan die werk is om te breek, te buig, te vorm, ja, om te maak soos Hy wil. Ons moet net in Sy hande oor- en afgegee wees. Lindi Schoonwinkel getuig hiervan: “Dit was vir my ʼn wonderlike voorreg om die afgelope twee jaar my opleiding by Glenvar te ontvang. Ek het so ontsettend baie geleer en die Here het my gevorm. Selfs nou wanneer ek besig is om lesingnotas te tik, is dit vir my tot baie groot seën. Ek sal nooit kan vergeet wat alles hier vir my beteken het nie en ek gee al die eer aan die Here.” Lindi voltooi haar opleiding aan die einde van die kwartaal.
Ons dank ook die Here vir die wyse waarop Hy Die Pelgrim tydskrif en Korrespondensie Bybelkursus gebruik en vir die getuienisse wat ontvang word in die verband.
PAROW DIENS: Hierdie Kollegediens in die Metodiste Kerk in Bedfordstraat is ʼn diens waarna ons elke jaar uitsien. Die program sluit rapporte en getuienisse asook sangitems in en is gewoonlik tot groot seën. Ons nooi almal in die Noordelike voorstede van harte uit en wil vra dat u ook ander saam sal nooi. Die diens begin om drie uur en duur net een uur sodat daar nog genoeg tyd is om na die aanddiens te gaan. Nooi asb. ander mense saam!
SPESIALE GEBEDSVERSOEKE
STUDENTE AANSOEKE VIR 2012: Bid vir die aansoekers wat reeds aangeneem is en ook vir duidelike leiding en bevestig vir hulle wat aansoekvorms het asook vir die Here se bevestiging van hulle roeping.
FINANSIëLE BEHOEFTES VAN DIE KOLLEGE: Ons wil uit die diepte van ons harte baie dankie sê vir elkeen wat ons die afgelope tyd finansieel ondersteun het. Naamlose donasies is vanaf Hermanus ontvang. Ons het verskeie herstelwerk en ander groot verpligtinge om na te kom. Bid asseblief saam met ons vir die voorsiening om hierdie noodsaaklike dienste en behoeftes aan die geboue te doen. Bankbesonderhede: Rekeningnaam: Afrika Evangeliese Bond. Glenvar Bybelskool. Tak: Absa Wynberg. Rekeningnommer: 450143405.
Die Kollege sluit DV die 28ste November en heropen weer die 17de Januarie 2012.
Dit was vir ons wonderlik om die afgelope jaar vir u te kon bid en saam in die evangeliebediening te staan. Mag u ʼn wonderlike Christusfees beleef en die Heer se keurseëninge in 2012 ervaar.
D Myburgh en Glenvar personeel. |