|
Liewe Gebedsvriende
Napoleon se leuse was ‘Ubicunque felix’ “orals gelukkig”! Soos Napoleon is ons terdeë bewus van die feit dat die lewe nie altyd so is nie, maar dat die lewe ons soms stief en onregverdig behandel. Die Bybel beklemtoon dat die lewe onvoorspelbaar is en dat ons lot van tyd tot tyd verander (Spreuke14:13; Jesaja 16:10; Jakobus 4:9).
Ons gevoelens wissel tussen gelukkigheid en ongelukkigheid en dit is goed om onsself kort-kort te herinner dat die gevoelens van ongelukkigheid meesal tydelik is. Ons kan egter die gelukkige tye geniet solank as wat dit hou!
Terwyl Jesus op aarde was, het Hy gelukkige dae en ongelukkige dae ervaar, MAAR DAAR WAS SEKERE DINGE WAT HOM AS MENS ALTYD VREUGDE EN BLYDSKAP VERSKAF HET en HY WIL HIERDIE BLYDSKAP AAN ONS DEURGEE (Johannes 16:33)!
1) Baie ou houtskepe was gebou met ‘n gesig op die boeg (die voorkant) uitgekerf, met oë wat stip na die hawe kyk waarnatoe die skip op pad was. Deur goeie en slegte weer is die oë dus stip op die bestemming gevestig. Sou ‘n storm egter die skip tot stilstand dwing, is die anker laat sak ook as instrument van hoop — alhoewel ‘n tydelike een. Terwyl die Here Jesus oor Judas gebid het wat Hom sou verraai (Johannes 17:12), het Hy in vers 13 te midde van die krisis uitgeroep, “Ek spreek hierdie dinge in die wêreld, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê”. Omdat Jesus die toekoms ingekyk en die ewigheid gesien het, kon Hy die swaarkry (onaangename tye) met blydskap tegemoet gaan. Hebreërs 12:2: “wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het.” Jesus het sy oë op die loon in die ewigheid gehou (Lukas 24:26) en Hy was gemotiveer deur dit wat die saligheid vir die mens sou bewerk.
Ons moet ongelukkige dae verwag (Matthéüs 5:45) en sulke dae vanuit ons hemelse Vader se perspektief sien — dat sulke tye God se gereedskap is waarmee Hy ons vir die ewigheid vorm. Wanneer daar in die ergste storms nie vordering gemaak kan word nie, is hoop ons anker (Hebreërs 6:19). [Sien ook Romeine 8:18; 2 Korinthiërs 4:16-18.] Paulus sê dat GELOOF, HOOP EN LIEFDE al is wat ‘n Christen in hierdie lewe het (1 Korinthiërs 13:13)!
As ons nie in Hoopstraat woon nie, is ons in ‘n Doodloopstraat en ons verloor ons blydskap!
God belowe ons nooit môre nie (Jakobus 4:13-15), MAAR Hy belowe ons die ewigheid saam met Hom! John Bunyan het gesê, “When all else is gone, the Christian still has hope” en CS Lewis: “Hope is a continual looking forward to the eternal world.”
2) Daar is grafte in Indië wat twee-en-twintig jaar geneem het om te voltooi. Die akoestiek is van so ‘n aard dat enige weerklank klink asof dit van bo in die dak afkomstig is, wat een hondred-en-vyftig meter hoog is! Lukas 15:5,6,9,10,23,24 beveel ons om bly te wees oor siele wat gered word, omdat die hemel daaroor bly is. In Lukas 10:21 lees ons toe die sewentig van ‘n suksesvolle evangeliese toer teruggekom het, “In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug”. Jesus het Hom verbly omdat die Heilige Gees die magte van die duiwel se werkinge in mense oorwin het!
3) Daar is ‘n gesegde: “‘n Gehoorsame kind/arbeider is ‘n gelukkige kind/arbeider!”. In Johannes 15:11 verseker Jesus diegene wat in Hom bly — gehoorsaam is, ander liefhet en sy wil doen — dat sy blydskap in hulle volkome sal wees! M.a.w., die Christen wat Jesus gehoorsaam, sal die volheid van Jesus se blydskap ondervind! Die blydskap mag aanvanklik nie ‘vol’ wees nie, maar die doel van die gebod is “volkome”!
Die lewe is nie altyd regverdig nie en ons sal nooit ALTYD in hierdie lewe gelukkig wees nie. Die lewe sal ons teleurstel en ons behoort nie deur ons gevoelens beheer te word nie (1 Johannes 3:20). Ons moet natuurlik nie dinge dink, sê of doen wat ongelukkigheid oor ons sal bring nie! GOD MOET ONS BLYDSKAP EN VREUGDE WEES — Nehemia 8:10; Jesaja 12:3; Psalm 16:11; 30:6; 89:17; 132:16; Romeine 14:17; Filippense 4:4.
WEES MET (ons) BLY” – Lukas 15:6,9.
WES-KAAP: Ina Toua — “Maandag was ‘n geseënde dag toe ek ‘n negentien-jarige meisie in ‘n staatsaanklaer kantoor na die Here kon lei. Sy het na die tyd gesê dat haar ma al jare vir haar bid. ‘n Ander wonderlike geleentheid wat die Here gegee het, was ‘n gesprek met ‘n man in ‘n bank. Nadat ons ‘n rukkie gesels het, het ek hom gevra of hy wedergebore is. Ewe eerlik sê hy nee. Ek het vir hom “Die Pelgrim” tydskrif gegee en so volg ek hom nou op.”
Victor Muller — “Die getalle by die Vakansie Bybelskool langs die Weskus het tussen sewe-en-negentig en een honderd-en-elf gewissel. Vanaf die eerste dag het kinders op die boodskappe gereageer. Een seun het nogal my hart diep aangeraak toe hy gesê het dat hy nie slegs sy hart vir Jesus wil gee nie, maar ook sy arms, brein en voete — alles wat hy het moet aan die Here behoort! Wat ‘n voorreg was dit om daardie gebed aan te hoor toe hy in trane vir Jesus sê hoe lief hy Hom het.”
OOS-KAAP: Jana van Dyck — “Die twee sprekers tydens ons Jeugkamp het nie vir die jongmense gepreek nie, maar met hulle ‘gesels’. Na elke diens het die jongmense ‘n geleentheid gehad om te bid. Dit was waarlik wonderlike tye. Toe die jongmense na afloop van die dienste bly sit het, het ons nuwe liedjies vir hulle geleer en spontaan verder uit die Woord van God met hulle gedeel.”
Magda-Marie Alberts — “Tydens die Sondagoggend erediens in die kerk in ‘n sekere dorp, het ons mense gesien wat ons oor ‘n tyd tydens ons Boknes uitreikings, bevriend het. Hul dogter, wat ‘n onderwyseres by die Laerskool in die dorp is, het vir ons ‘n geleentheid by die skool gereël. Dit was wonderlik om die evangelie van die Here Jesus aan die hele skool te kon oordra. Ons kon ook eendag al die Liggaam’s Oefening periodes by die Landbouskool buite die dorp waarneem, ons getuienisse gee en die evangelie met hierdie jong seuns deel. Ons was met tye werklik bewus van die Here se werking. Een dame wie ons besoek het, het haar hart teenoor ons oopgemaak en ons kon saam met haar bid. Ons kon ook een oggend by ‘n klein plaasskool die evangelie aan al die kinders in die drie klaskamers bring. Die Here het ons gehelp en ons kon sien dat die kinders elke woord indrink.”
ORANJERIVIER DISTRIK: Glen Buys — “Verlede week het ‘n predikant my gebel en gevra of ek saam met hom tien duisend rand se komberse in ‘n arm buurt sal gaan aflewer. Ons het twee honderd traktate en ander Christelike literatuur saamgeneem. Ons het die komberse uitgedeel nadat ons ‘n evangeliese boodskap gebring het. Bid ook asseblief, ons wil tydens die Gemsbokfees hier in Upington minstens vyf honderd traktate uitdeel!
Ons het ‘n wonderlike Vakansie Bybelskool hier in Upington gehad. Met die verloop van tyd, kon ons sien hoe die Here in hierdie kinders se harte gewerk het. Ons bid waarlik dat die Here hierdie kosbare kindertjies sal agtervolg en dat van hulle een dag in voltydse diens vir die Here sal staan. ‘n Paar van die kinders het na een van die sendingverhale wat ons vertel het, gesê dat hulle graag ook een dag vir die Here wil werk.
Ons het die Vrydag ‘n straatkind-uitreik gehou wat van agt uur die oggend tot vier uur die middag geduur het. Dit was ook in die vorm van ‘n Bybelklub. Ons het ses onder hulle geïdentifiseer wat werklik potensiaal het, maar slegs die Heilige Gees kan hierdie kinders uit die geestelike moeras uithaal, waarin hulle hul bevind.”
NAMIBIË: Taylor Ridgard — “Ons het ‘n geseënde dag in een van die dorpe gehad. Na ons huisbesoek het ons ‘n diens in die Ouetehuis gehou. Een dame het gesê dat sy die laaste tyd haar in ‘n sielestryd bevind. Sy het vir jare die Here waarlik gedien en nou is daar twyfel. Sy is ses-en-tagtig en moeg en haar dokter sê dat sy feitlik elke denkbare siekte het! Sy het getuig dat as gevolg van haar omstandighede dat sy begin twyfel het. Ons het haar gaan besoek en saam met haar gebid. Sy het ernstig gebid en na die tyd die Here vir die reiniging van sy kosbare bloed gedank sowel as dat Hy haar Redder is.”
BID ASSEBLIEF VIR DIE VOLGENDE:
27-29 Aug: Dameskamp:Samekoms, Mev Till
10 Aug-7 Sept: Uitgebreide toer in Noord-Kaap
26 Aug-5 Sept: Senekal (met Glenvarstudente)
30 Aug-3 Sept: Tulbach Jeugweek
3-5 Sept: Dundee Familie Konferensie
3-5 Sept: S.Tvl. Bybelstudiekamp, Mnr F Osborne
9-12 Sept: Raadsvergadering & diens, Kimberley
17-19 Sept: Clanwilliam Konferensie, Mnr J le Roux
24-26 Sept: Mannekamp, Hebron, Mnr J de Bruin
AEB FAMILIEKAMPE, 24-26 September 2010:
Amana: Spreker, Mnr Estiaan Terblanche
Betesda: Ds Rudi Beukes
Emmanuel: Huwelikskamp, Dr JJ Geldenhuys
Hebron: Mnr & Mev Drotskie (1-3 Oktober)
Mispa: Mnr & Mev Waterson
Pennington: Mnr & Mev Drotskie
Samekoms: Mnre Liebenberg en Luüs
17 Sept- 7 Nov: Amerika Preektoer, Keith Daniel
24-26 Sept: S.Tvl. Seunskamp, Ds Ian Coetzee
27 Sept-1 Okt: Pennington Jeugkamp
30 Sept-3 Okt: S.Tvl kinderkamp, R van Raaij
9-17 Okt: Glenvar Studente toer in Wes-Kaap.
22-24 Okt: Manne/Dameskamp, Waterson familie
29-31 Okt: Dameskamp, Hebron, Mev E Gericke
Met dank teenoor ons Getroue Heer erken ons die volgende NAAMLOSE DONASIES:
XYZ: 30/4, R200; 08/06, R200; 02/07, R200; 04/08, R200. Stilbaai: 4/06, R400;
Segdefield: 06/05, R1,000; 03/06, R1,000.
Milnerton: 11/05, R300; Cradock: 13/05, R100
Hermanus: 08/06, R200; 30/07, R150.
Keith & Dalene Waterson
Bankbesonderhede:
AEB Gen/Sec, ABSA Parow,
Rek Nº: 390184034,
Tak Nº: 502-110 |