|
Liewe Gebedsvriende,
"...maar het hulself eers aan die Here gegee, en toe aan ons deur die wil van God." (2 Kor.8:5)
Een van die dinge wat jonger werkers in die sendingveld aanmoedig om met die Here se werk voort te gaan en in hul roeping te volhard is die belangstelling en betrokkenheid van Christene by dit wat hulle onder leiding van die Heilige Gees in die arbeidsveld doen.
Waaraan evangelisasie- en sendingaksies ‘n dringende behoefte het is mense wat hulle onvoorwaardelik vir God se werk gee. Nie net vir voltydse diens nie, maar veral om hulle wat deur God geroep en gestuur is heelhartig te ondersteun in dit wat hulle vir Hom hier op aarde doen.
Uit bogenoemde Skrifgedeelte lei ons af dat slegs iemand wat homselfalgeheel en volkome aan die Here gegee het ook in staat sal wees om homalgeheel en volkome vir die saak van sending en evangelisasie te gee. Sendingywer is die gevolg van die vervulling met die Heilige Gees.
Ons lees verder in 2 Kor.12:14 dat Paulus sê: "...ek soek nie julle goed nie, maar julle self." Ek het ondervind dat dit maklik is om ‘iets’ vir God se saak te gee...dit is egter ‘n ander storie om JOUSELF te gee! Daarom vermaan Paulus ook in Romeine 12:1 "...dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer-" Hoe het ons nie ook vandag ‘n dringende behoefte aan mense wat hulle liggame gee vir die saak van God nie? Liggame wat nie anders kan as om fisies heelhartig by hulle op die arbeidsveld betrokke te raak nie.
Dit is onmoontlik om JOUSELF ten volle en heelhartig aan God se saak te wy as jy nie in ‘n VOLKOME OORGAWE aan Hom leef nie.
Terugvoer:
Hoewel min mense die reeks dienste op Wellington bygewoon het, was dit vir my ‘n wonderlike ervaring om in daardie pragtig ou saal, die‘Murray Jubilee Hall’ wat in 1905 gebou is, te kon preek. Om te dink dat dr Andrew Murray daar klas geggee het! Een aand het ek om die saal gestap en sy woonhuis, Clairvaux, ‘ontdek’
waar hy van 1892 tot en met sy dood in 1917 gewoon het. Langs die saal is die statige ou dubbelverdieping Huis Samuel wat meer as ‘n eeu lank huisvesting aan jongmanne gebied het terwyl hulle opgelei is vir die sendingveld. Dit alles is die tasbare bewys van ‘n plan wat God in ‘n ware Geesvervulde kind van Hom se hart gegee het om vir Sy koninkryk hier op aarde te doen. Die reeks was deurgans gekenmerk deur God se teenwoordigheid wat dit vir die handjievol wat gekom het die moeite werd gemaak het om elke aand weer te kom. Aan God al de eer!
Die pas afgelope Konferensie op Clanwilliam was uitstaande. Sondag se boodskap deur mnr Frikkie Osborne was ongetwyfeld vir my die hoogtepunt. Victor skryf die volgende daaroor: "Sondag is ons uitgedaag om nie die kruis te omseil op die pad van heiligmaking nie. Elke konferensieganger het getuig van groot persoonlike seën." Die uitdaging is ook tot ons gerig om weer ons kruis op te neem ten einde oorwinning in ons geestelike lewe te verseker. Sommer daar in my stoel het die Here Jesus vars met my ontmoet en ek kon agterkom dat Hy baie ander in die saal ook nie verbygegaan het nie!
Die pelgrims het besoekwerk op ‘n hele paar dorpe gedoen. Hulle skryf onder andere in ‘n brief as volg: "Verder was die geestelike bemoediging van vriende weer vir ons opnuut ‘n aanvuring terwyl ons besoek het. Ons dank die Here vir mense wat geestelik in ons inbou." Liewe vriende, moenie vergeet dat ons as geestelike werkers ook u bemoediging en aansporing nodig het nie!
OKTOBER 2011
• Vanweë die konferensie op Amana sal daar GEEN MAANDELIKSE DIENS in PAROW in Oktober wees nie.
STUDENTEVELDTOG!
Soos die Here wil sal ons van 14 - 23 Oktober saam met mnr Myburgh en Glenvar se studente ‘n Veldtog in die Wes-Kaap hou. Die Here het lieflike oop deure op Stilbaai, Riversdal en Bonnievale in skole, ouetehuise en kerke gegee!BAIE DANKIE DAT ONS OP U VOORBIDDING KAN STEUN VIR DIÉ UITREIK!!!
AMANA KONFERENSIE: 30 September - 2 Oktober 2011
Ons is baie dankbaar dat Dr’s Myburgh, Prinsipaalspaar van Glenvar Bybelkollege, beskikbaar is om as sprekers by Amana op te tree! Meneer se insiggewende en verstaanbare boodskappe oor heiligmaking en Mevrou se praktiese boodskappe oor die toepassing daarvan maak hulle ‘n uiters effektiewe sprekerspaar by ‘n konferensie. Bespreek asseblief so gou as moontlik by ons! DIE PROGRAM is as volg: VRYDAG: 18:00 - Aandete; 19:00 - DIENS SATERDAG: 7:00 - Biduur; 9:00 - BIDUUR; 11:00 - DIENS; 16:00 - DIENS; 19:00 - DIENS; 21:00 - Gebedstyd SONDAG: 7:00 - Biduur; 9:00 - DIENS 11:00 - DIENS
NOVEMBER 2011
• MAANDELIKSE DIENS in PAROW:
Sondag 6 November om 15:30 in die Metodistekerk in Bedfordstraat. Dit sal ‘n spesiale geleentheid wees waartydens mnr Myburgh en Glenvar se studente sal optree.
• MAANDELIKSE DIENS in die STRAND:
Sondag 20 November om 15:30 in die Baptistekerk in Kerkstraat. Hier het ons ook die voorreg om die Bybelkollege by ons te verwelkom!
MOET ASSEBLIEF NIE DIÉ TWEE GELEENTHEDE MISLOOP NIE!
• Sou die Here vertoef om te kom, beplan ons om weer in November ‘n reeks dienste op Sutherland te hou. Die belangstelling en waardering van die mense tydens verlede jaar se reeks maak dit deur en deur die moeite werd om dié jaar weer ‘n reeks daar te gaan hou.
Nasionale Konferensie: 14 - 18 Desember 2011
Mnr Keith Daniel, ds Rudi Beukes en mnr Keith Waterson sal die sprekers by vanjaar se Konferensie op Samekoms naby Middelburg daar in Transvaal wees. Sou u graag wil bespreek kan u vir Frans en Erica Gericke by T.(012) 361-2453 kontak.
BANKBESONDERHEDE:
ABSA, Afrika Evangeliese Bond, Tjekrekeningnr: 404 922 7893, takkode: 334-312
GOD SEËN U vir die anonieme donasies wat in die AEB se rekening inbetaal is op 25/08(LAS), 29/8, 31/8 Asook vir die donsies wat inbetaal is op 01/9, 12/9.
ONTVANG ASB ONS OPREGTE DANK IN DIE HERE JESUS!
"En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe..." (Hebr.9:27)
Mev. Kinnie Visagie van Villiersdorp is op 27 Augustus oorlede. Sy het die 3de Junie 99 jaar oud geword. Tannie Kinnie was onsettend lief vir die AEB en ons was altyd verseker van haar voorbidding vir ons.
Mev. Joy Kelly van Vredendal is op 31 Augustus na haar ewige tuiste. Haar persoonlike getuienis van hoe die Here Jesus haar siel gered het was vir die pelgrims deur die jare heen tot groot seën en bemoediging!
Seënwense in JESUS CHRISTUS ons KONING!
Hercu, Cobie, Rhodé, Brigiette en Adéle Wentzel. Ina Toua, Victor Muller en Jan-Harm Labuscagne. |