Log in
Wes-Kaap Nuusbrief Des 2011 - Jan 2012 PDF Print E-mail
News Letters
Written by AEB Western Cape   

Liewe Gebedsvriende,

In die Woord van God lees ons meer as een keer dat God die Jordaanrivier verdeel het. Ons dink aan die wonderwerk wat Hy gedoen het toe sy volk deur die Jordaan na Jerigo getrek het om die Beloofde land in besit te neem.

" , terwyl die Jordaan vol was op al sy walle...bly die water staan...dit het opgerys soos een wal...toe het die volk deurgetrek...op droë grond binne-in die Jordaan..."

(Jos.3:15-17)

Daar was verder nog twee insidente waar God deur wonderwerke dieselfde Jordaanrivier kort na mekaar verdeel het.

"En Elia sê vir hom (Elisa): Bly tog hier, want die HERE stuur my na die Jordaan. Toe neem Elia sy mantel en rol dit op en slaan op die water; en dit is na weerskante verdeel, sodat hulle twee op droë grond deurgegaan het....en hy neem die mantel van Elia wat van hom afgeval het, en slaan op die water ...En toe hy op die water slaan, is dit na weerskante verdeel en Elisa het deurgegaan." (II Kon.2: 6 + 14)

In 1 Kron.12:15 lees ons egter die volgende rakende die seuns van Gad wat helde van Dawid was:

"Dit is hulle wat deur die Jordaan gegaan het in die eerste maand terwyl hy vol was oor al sy walle."

Die Here het nie die Jordaanrivier vir dié helde van Dawid verdeel nie. Watter les leer ons daaruit? Dat God nie elke keer op dieselfde wyse werk nie. God raak nie stereotiep in sy handelinge met die mens is nie. Hy bly soewerein. Ons leer dat sommige mense ‘n wonderwerk nodig het om anderkant te kom en dat ander net deur blote geloof aan God se beloftes moet vashou om ook veilig aan wal te kom.

"As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur riviere- hulle sal jou nie oorstroom nie...

Want Ek is die HERE, jou God,...jou Heiland..."

(Jes.43:2)

As ons terugkyk oor 2011...

Van ons kan dalk nie daarvan getuig dat God ‘n siedende Jordaanrivier skouspelagtig vir ons verdeel het nie, maar ons kan wel daarvan getuig dat Hy ons sonder enige vertoon en indrukwekkendheid deur die vol rivier gehelp het OMDAT HY BY ONS WAS!

En wat 2012 betref...

"As die rivier swel - hy word nie verskrik nie; hy voel gerus, ook al bruis ‘n Jordaan teen sy mond."

(Job 40:18)

Rus in ‘n VOLKOME OORGAWE IN GOD wat getrou is om u deur elke vol en bruisende rivier in die onbekende jaar wat voorlê te lei! Of Hy dit nou vir u verdeel en of Hy nou vir u deur die vol rivier help...diegene wat in geloof aan God vashou, sal veilig en behoue aan die oorkant kom!

Terugvoer

Die Heiligheidskonferensie op Amana saam met mnr en mev Myburgh was werklik uitstaande. Saam is hulle ‘n uiters effektiewe sprekerspaar wat mekaar só goed aanvul! Hulle het met groot vrymoedigheid die Woord van die Here gebring en die absolute noodsaaklikheid van die volheid van die Heilige Gees in die kind van God se lewe beklemtoon. Ons het almal weer bewus geraak van die skoonheid en krag van God se heiligheid wat in die praktyk van ons alledaagse lewe moet uitwerk. Mense het dit nie moeilik gevind om hul voor die Here te verootmoedig nie. Op meer as een konferensieganger se gesig kon ek in die loop van die naweek sien dat die Here hulle ontmoet het. Hulle gesigte het gestraal, hul oë was weer helder en jy kon die sagtheid van Christus in hul atmosfeer optel.

Wat die Studenteveldtog in die Wes-Kaap betref was dit gewis een wat ons vir altyd sal onthou! Mnr Myburgh skryf die volgende: "Die Here het op ‘n besondere wyse in die skole gewerk. Jongmense het spontaan hulle lewens aan die Here oorgegee. ‘n Matriekseun het in trane na een van die studente gekom en gevra dat hy hom moes help om die Here as Saligmaker te vind. In die koshuis het nog een soekende geraak toe hy die verandering in ander opgemerk het. Een van die hoogtepunte was die jeugdiens waar byna driehonderd jongmense teenwoordig was. Wat ‘n gesig was dit nie om soveel jongmense in die straat te sien wag om in die kerk in te gaan! Die teenwoordigheid van die Here was byna tasbaar en na twee kostelike boodskappe en ‘n boodskap in sang, het byna ‘n derde van die gehoor agtergebly en van hulle het beslis en desperaat die Here aangeneem. Die plaaslike leraar het die diens as ‘Goddelik’ beskryf."

Sutherland se mense kruip net al dieper in ons harte! Die reeks dienste daar was weer gekenmerk met ‘n honger na die Woord van die Here. In die middel van November was dit vir twee nagte 0ºC gewees, maar die koue het die getroue ou groepie nie afgeskrik nie! Met ‘n temperatuur van vriespunt en ‘n ysige wind wat deur jou sny het hulle die laaste aand ook bygewoon! Uit dit wat mense na die dienste teenoor ons getuig het kon ons sien dat die Here diegene wat Hom verwag het nie verbygegaan het nie.

Op 16 November het ek die voorreg gehad om die Woord van die Here by dieopeningsgeleentheid van die AEB se boekwinkel in Parow te bring. Die winkel het na ‘n ander perseel in dieselfde Shopritepark Sentrum verskuif en het nou die ideale ligging. Gaan maak gerus daar ‘n draai! (Kontak vir Linda by T.(021) 939-7283 vir enige navrae.)

JANUARIE 2012

• MAANDELIKSE DIENS

in die STRAND: Sondag 29 Januarie om 15:30 in die Baptistekerk in Kerkstraat.Mnr Keith Waterson sal vir ons die boodskap van die Here bring.

BANKBESONDERHEDE:

ABSA, Afrika Evangeliese Bond, Tjekrekeningnr: 404 922 7893, takkode: 334-312

BAIE DANKIE

vir die anonieme donasies wat op die volgende datums in bg. rekening gedeponeer is: 10/10; 24/10; 27/10; 28/10 en 25/11. (Anonieme donasies vanaf 28/11 sal in ons volgende nuusbrief erkenning geniet.)

ONTVANG ASB ONS OPREGTE DANK IN DIE HERE JESUS!

"En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe..." (Hebr.9:27)

Mev. Joan Kapp van Worcester is einde September in die ouderdom van 90 jaar oorlede. Die laaste beeld wat ek van haar onthou is waar sy in die hospitaalbed lê en Bybel lees toe ek haar daar in Augustus besoek het. Die liefde vir haar Meester het uit haar gestraal.

Mnr Evan Keytel van Welgelegen is op 3 November na sy ewige tuiste ongeveer 4 ure voor een van die pelgrims daar besoek sou aflê.

Ons as ‘n Wes-Kaapspan wens u ‘n baie GESEËNDE CHRISTUSFEES toe asook ‘n mooi 2012 met ‘n groeiende WEDERKOMSVERWAGTING in u hart!

Hercu, Cobie, Rhodé, Brigiette en Adéle Wentzel. Ina Toua, Victor Muller en Jan-Harm Labuscagne