|
Liewe vriende en belangstellendes
In die Bybel kry ons verskeie verhale van bootreise, Jona se verhaal wat gaan oor 'n geroepene wat weghardloop vir die Goddelike opdrag, Paulus en sy mede reisgenote wat amper vergaan in 'n groot storm op die see (Hand 27), en dan 'n paar keer is die disippels op die water vasgekeer in 'n storm (Matt 8:23-27, Joh 6:16-21), die een keer het Jesus in die skuit geslaap, die ander keer toe hy al wandelende op die see by hulle aankom:
Joh 6:17-21 “En nadat hulle in die skuit geklim het, het hulle oor die see gevaar na Kapérnaüm; en dit was al donker, en Jesus het nog nie by hulle gekom nie. En die see was onstuimig, omdat ‘n sterk wind gewaai het. En toe hulle omtrent drie of vier myl geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom; en hulle het bang geword. Maar Hy sê vir hulle: Dit is Ek, moenie vrees nie. Toe was hulle gewillig om Hom in die skuit te neem, en dadelik het die skuit by die land aangekom waar hulle na toe gegaan het.”
Ek dink nie daar is een van ons wat nie deur die storms van die lewe gekasty word nie, hetsy dit finansies, familie of geestelike storms is, ons is goed bekend daarmee. Ons baklei baie keer lank en bloedig teen hierdie stroms (“En toe hulle omtrent drie of vier myl geroei het”), net om mismoedig met ons hande in die hare op ons knieë neer te val en daardie bekende woorde te uiter; “Hoekom moet dit met my gebeur!”
Die trane wat gestort is daar langs die bed waar ek kniel, die hemel sal eendag daarvan getuig.
Storms veroorsaak dat ons baie keer ons oë afhaal van die Here Jesus af, en al is die Here Jesus naby ons (“sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom”), is die hart so onstuimig dat ons selde Hom erken vir wie Hy is.
Net oomblikke tevore het Jesus 'n geweldige skare gevoed met vyf garsbrode en twee vissies, en die dissipels het twaalf mandjies vol oorskiet bymekaar gemaak, maar dit is alles vergete in die storm, die voorsiening van die verlede is vergete, die enigste gedagte is, “ek moet probeer oorleef!” (Matt 8:25)
“Daar is geen uitkoms mee nie!” En tog is die antwoord voor die hand liggend, ons moet eers dié stem weer hoor, die stem van ons Verlosser, en Hom weer toelaat om in die bootjie te klim en bestuur van my lewe oor te neem. 'n Algehele oorgawe, om onvoorwaardelik weer die bestuur van my skuit in die Here se hande te plaas. Hoe veg ons nie teen hierdie gedagte nie, want ons weet daar verandering gaan moet kom, in my lewe, my huishouding, my familie, en tog is dit die enigste antwoord.
“en dadelik het die skuit by die land aangekom”, toe die oorgawe gemaak is was die uitkoms voor die deur. As ons leer om nie te baklei teen die stoms nie, as ons leer om die bestuur van ons lewe oor te gee, dan is die uitkoms voor die deur. Alles word helder en duidelik, die storm gaan lê en die uitkoms was daar!
Let go and let God have His wonderful way, Let go and let God have His way. Your sorrows will vanish your night turn to day, Let go and let God have His way!
Nuus Vanuit Die Veld
Die algemene konferensie te Samekoms, Middelburg was weereens een van die hoogtepunte van 2011 gewees. Elke prediker het met groot vrymoedighied gepreek en baie van ons het reageer op die Woord vir verskeie behoeftes. Wat baie bemoedigend was is die aantal jeug by die konferensie, dit was bemoedigend gewees om te sien hoe hulle ook die Here soek en by verskeie geleenthede uitkom vir gebed. 'n Goeie klompie van hulle het ook reageer op die roepingsboodskap wat by een geleentheid gepreek was. Bid vir die jeug, dat hulle sal getrou wees aan die roeping wat die Here op hulle lewens lê.
Tydens Desember het ons die geleentheid gehad om 'n kersdiens waar te neem by Limeriek oord langs die Vaalrivier. Ons was 'n klein groepie mense gewees, maar die deure is oop dat ons in die toekoms oor kerstyd 'n geleentheid gaan kry om daar uit te reik tussen die vakansiegangers. Dit sal behels dat ons 'n paar dae lank 'n spesiale program sal aanbied en dan afsluit met die kersdiens.
Dit was ons voorreg om 31ste Desember die troue van Shawn en Lientjie Pienaar by te woon wat op Betesda gehou was. Die Pienaar familie is al geslagte lank betrokke by die AEB en veral by Betesda. Tydens dié geleentheid het hulle my gevra om die boodskap vir hulle te bring. Dit was voorwaar 'n voorreg om twee kinders van die Here voor die altaar te sien staan. Ons bid julle twee die Here se seën toe, mag jul huwelik waarlik ander aanmoedig om die Here te soek!
Ons het by veskeie ander geleethede opgetree tydens Desember en vroeg Januarie en ek wil vir elkeen van ons vriende bedank wat so getrou in die gebed by ons staan.
As u ook graag wil aansluit by ons gebedsketting, kontak ons gerus en u sal gereeld 'n SMS ontvang met spesiale gebedsversoeke.
Ons will ook weereens vir oom Pieter en tannie Ragel Struwig verwelkom in ons midde, hulle het weer die opsigterspos op Betesda aanvaar vroeg Desember. Gaan voort om vir hulle en hul dogter, Madelein, te bid. Bid besonders vir Madelein met haar siekte, dat die Here haar sal aanraak.
Ek wil elke vriend aanmoedig om by hulle in te skakel en te help waar u kan, al is dit net om hulle te verseker van u gebede!
Dinge om voor te bid!
Februarie Besoeke met die oog op die studente toer.
Maart 4 Maandelikse diens by ons aan huis 9-11 Vrouekamp 17-25 Studente toer: Uitreik in kerke te Carletonville en Parys asook 'n reeks dienste te Deelkraal (19-24 Maart)
April 5-8 Paaskonferensie met Mnr & Mev Drotskie
Groete in die Naam wat waarlik verlos! Joggie en Alta Swanepoel |