|
Liewe vriende en belangstellendes
Graag deel ek die volgende gedagte met u: Onmiddellik nadat Paulus ons vermaan as vrouens en as mans, as kinders en ouers, as slawe en as opsigters (here) (Ef. 5:22-6:9) kry ons die bekende Ef. 6:11: “Trek die volle wapenrusting van God aan,”
Dit is vir die lewe wat ek leef daar by die huis waarvoor ek die wapenrusting die nodigste het, want die toetse wat ek tuis moet deurstaan is van die gedugste wat ek as kind van God ooit kan en sal beleef. Ons moet besef dat ons in die eerste plek nie leef voor die dominee en die kerk nie, ook leef ek nie voor die mense wat nog in heidense duisternis vasgevang is nie, ek leef nie voor die vreemdeling op straat nie, maar vir seker leef ek voor my huismense – elke dag! Al die preke wat ek hoor en boeke wat ek lees moet uitwerk, eerstens, daar by die huis! As jou geestelike lewe by die huis nie uitwerk nie, dan sal dit ook nie elders uitwerk nie.
Trek die volle wapenrusting aan, daar by die huis “sodat julle staande kan bly”! Laat die grootste getuienis van jou lewe wees dat jou huismense getuig: “En sy het aan haar man gesê: Kyk tog, ek merk dat dit ‘n heilige man van God is wat gedurig by ons verbygaan;” 2 Kon. 4:9
Dit herhinner my aan 'n ou bekende koortjie:
What you are, speak so loud,
That the world can't hear what you say,
Their looking at your walk,
Not listening to your talk,
They judge you by your actions every day!
Don't believe, you'll deceive,
By claiming what you've never known,
They'll accept what they see,
And know you to be,
They judge from your life alone!
Nuus Vanuit Die Veld
Suné By een van die dorpe op ons toer het ons `n tannie besoek wat gesukkel het met geloofsekerheid, en ons kon ons getuienisse van wedergeboorte met haar deel. Sy het gesê dat sy nie hardop kan bid nie, maar sy het in ons teenwoordigheid `n oorgawe gemaak en tog `n gebed gedoen.
By 'n ander geleentheid het ons by mense uitgekom wat oorloop van die Here, maar ook bemoediging nodig gehad het. Die man het sy getuienis van wedergeboorte met ons gedeel. Hy was eers 'n Katoliek, maar toe hy sien wat die Here in sy vrou se lewe gedoen het, beweeg dit sy hart en hy het die Here begin soek. Ons het 'n baie geseënde besoek daar gehad en ek is ook self bemoedig met hoe hulle aan die brand is om die Evangelie met ander te deel.
Regdeur die toer het ons baie kosbare besoeke gehad, een van hierdie besoeke was by 'n ou oom en tannie. Ons het vir die oom gevra op grond waarvan hy in die hemel toegelaat moet word, en hy het met baie sekerheid gesê: "goeie werke wat ek gedoen het." Ons het toe vir hom verduidelik dat goeie werke 'n mens nie in die hemel kan bring nie, maar alleen as ons gewas is in die bloed van Jesus. Ons het hom gevra of hy weergebore is waarop hy negatief geantwoord het. Ons het daar vir hom gebid.
Wat ook vir my kosbaar was is dat die oom en tannie by wie ons gebly het op een van die dorpe so goed was vir ons. Die oom is 'afgelê' twee maande voor ons daar tuis sou gaan, sonder dat ons enigsins daarvan geweet het. Hy het toe elke Woensdag begin vas nadat hy sy werk verloor het. Die Woensdag wat ons daar was het hy met baie blydskap getuig dat die Here weer vir hom 'n werk gegee het, daardie selfde oggend! Prys die Here Jesus!
Dorette
Met 'n besoek het Suné aan ons gasheer vertel van ons bakkie se ruit wat inval aan die passasierskant. Ons gasheer het die ruit uitgehaal en gekyk wat die probleem is. Hy het die regte onderdeel in sy besit gehad en dit vir ons kosteloos vervang. Loof die HERE!
Een van die hoogtepunte van ons besoeke was ‘n besoek aan iemand wat kanker het. Die vroutjie se dogter is ‘n paar jaar gelede vermoor. Ons het ons getuienisse met haar gedeel en aanvanklik het sy nie getwyfel oor waarheen sy sou gaan as sy te sterwe sou kom nie, maar later het sy besef dat sy nie sekerheid het nie. Sy het ook die afgelope week na ‘n diens oor die radio geluister waarin die prediker oor vergifnis gepraat het. Ons het aan haar verduidelik wat om te doen om saligheid te verkry en sy was vas van plan om met die Here hierdie saak van vergifnis uit te maak.
Joggie Deur die week kry ek 'n oproep vanaf Vryburg, kort op die hakke van die dames wat so pas daar besoek het. Die oom het omtrent geborrel oor die geweldige seën wat hulle as gesin ontvang het toe die dames hulle besoek het. Die dames het met hom gedeel oor heiligmaking en die nuutste boek van oom Pieter Scholtz (Die Heilige Gees) aan hom verkoop en daar het soveel lig vir die oom opgegaan. Hy kon nie ophou dankie sê dat die dames soveel moeite met hom gedoen het nie.
Betesda Ek moet begin en met 'n swaar hart afskeid neem van twee mense wat vir ons oneindig baie beteken het.
Oom Pieter en tannie Ragel, wat op Betesda opsigters was, moes ongelukkig weens hulle dogter se gesondheid, onder andere, hulle pos daar opsê. Hulle dogter is gediagnoseer met 'n tumor op die brein en hulle sal dit waardeer as u ernstig vir hulle as gesin bid. Bid dat die Here Sy arms om hulle as gesin sal vou en hulle sal beskut! Dit los ons weer met 'n opening op Betesda en het ons nodig dat u asseblief weer saam met ons sal bid dat die Here 'n opsigter sal opwek vir Betesda. Ek was die afgelope tyd ook besig met die opgradering van die badkamers en ons behoort DV vroeg in September daarmee klaar te wees. Wat ons nog benodig is teëls, as daar mense is wat los teëls het wat hulle kan skenk, sal ons dit baie waardeer. Elke bietjie sal help.
Ou boeke Ons het 'n projek begin om weer goeie geestelike boeke onder mense te probeer versprei deur middel van tweedehandse geestelike boeke wat ons bymekaar maak en dan weer goedkoop verkoop. Dit sal dien om by plaaslike dienste en konferensies verkoop te word aan almal wat sou belangstel. As u tweedehandse geestelike boeke het waarvan u ontslae wil raak, kontak ons gerus en ons sal dit kom afhaal by u.
Baie dankie aan elke vriend wat die dames in hierdie tyd bygestaan en gehelp het, dankie vir u liefde vir die saak van die Here en mag die Here Jesus Christus self u elkeen ryklik seën vir wat u vir Hom gedoen het!
Vir die gebedslys!
ꝉ 8-10 Sept Raadsvergadering te Betesda ꝉ 10 Sept Dagkonferensie met al die raadslede te Betesda ꝉ 30 Sept -2 Okt Gesinskonferensie – Mnr De Bruin as spreker ꝉ 4-7 Okt Jeugkamp – Lichtenburg ꝉ 24-28 Okt Vryburg opening by skole ꝉ Verdere openinge wat nog bevestig moet word op Ottosdal, Schweizer-Reneke, Wolmaransstad en Magaliesburg. ꝉ Paaskonferensie (5-8 April 2012) met Mnr & Mev Drotskie as sprekers ꝉ Opsigterspaar vir Betesda ꝉ Vir al die siele wat ons pad gaan kruis! |