Log in
Noord-Kaap Nuusbrief Jul-Aug 2011 PDF Print E-mail
News Letters
Written by AEB Northern Cape   

Liewe Vriende

U het seker al gewonder wat van ons geword het en hoekom ons so stil is!! Ons is op die oomblik in Pretoria waar ek verdere behandeling kry by ‘n spesialis teen metaalvergiftiging. Ek was einde November 2010 alreeds by ‘n tandspesialis om al die amalgaamvulsels in my tande te vervang nadat ek baie siek geword het en gediagnoseer is met metaalvergiftiging.

Daarna was ek vir twee weke in ‘n detox sentrum vir behandeling. Hierna moes ek vir maande ‘n spesiale dieet volg saam met die medikasie wat ek daagliks of amper uurliks moes inneem. Ons het tot die besef gekom dat dit nie ‘n probleem is wat oornag opgelos kon word nie. Ek was ook in die begin van April ses dae in die hospitaal nadat my byniere begin oplewe het en ek geweldige fisiese spanning ervaar het. Die internis in Kimberley het my deeglik ondersoek en kon my nie regtig help nie omdat hy nie genoegsame kennis oor metaalvergiftiging dra nie. Hierna het ons ook verneem dat die dokter in Bloemfontein wat my oorspronklik gediagnoseer het vir drie maande oorsee gaan. Dit was vir ons ‘n probleem. So het die Here ons by ‘n spesialis in Pretoria laat uitkom wat wel kennis dra van metaalvergiftiging en my kon help. In hierdie geweldige beproewing het ons gedurigdeur dag en nag tot die Here geroep om hulp, raad en uitkoms!! In Pretoria gekom het die spesialis eerstens bloed- en urienmonsters laat neem wat oorsee gestuur is vir ontleding. Ons het drie weke daarvoor gewag. Intussen het ek voorlopig vyf behandelings gehad wat alreeds goeie resultate gelewer het waarvoor ons die Here innig dankbaar is. Uiteindelik het ons die uitslae gekry wat volgens die spesialis toon dat ek “’n wandelende myn” is en “’n teksboek geval.” Ek noem net ‘n paar metale wat u ‘n idee kan gee hoe erg dit is. Die chelasie behandeling maak die metale in die organe los en die urienmonsters het getoon dat my yster 1150.6 is i.p.v. 1.6-55; kwik 8.8 i.p.v. <2.8; aluminium 386 i.p.v. <30 en mangaan 139.5 i.p.v. <4.5. Die heel gevaarlikste metale is die kwik en mangaan. Die spesialis was die bekommerdste oor die mangaan wat 961% is i.p.v. <4.5 %. Hy het ook gesê die uitslae kan met twee of drie vermenigvuldig word omdat die urienmonster net oor ses ure geneem is. G’n wonder hy dink ek is ‘n wandelende myn nie. Ek gaan D.V. Maandag my tiende behandeling kry. Hierna gaan ons terug Kimberley toe waar ek vir minimum nog twee maande se chelasie behandeling sal moet kry. Dit kan sommer tuis gedoen word twee maal per week. Die spesialis gaan dit alles vir ons reël.

 

Hierdie vergiftiging het my tydens die ontgifting so swak gemaak dat ek geensins in die distrik kon uitkom nie. Al my verantwoordelikhede het stadig maar seker my vrou s’n geword. Saam is ons die afgelope agt maande op die Here gewerp om ons te kom ondersteun, ons te onderhou en om oor ontferm te word. Ons kan werklik getuig dat die Here vir ons ‘n Ontfermer geword het in ons diepe nood. Soms het ons dag en nag tot die Here geroep en geween om hulp. Sy ewige en kragtige arms het ons kom ondersteun en tot hiertoe gedra! Wat vir ons wonderlik is, is dat familie, medewerkers, vriende en vreemdes wat van my siekte en geweldige stryd gehoor het ons kort-kort geskakel, gesms of eposse gestuur en ons verseker van hulle gedurige voorbidding en liefde vir ons. Twee vreemde dames het sover gegaan toe hulle pastoor vertel het van my siekte en gevra het, Wie gaan vir Dawie Grové bid, al die pad Kimberley toe gery het om vir my te kom bid. “Dra mekaar se laste,” het vir ons waar geword. Opnuut het ons besef hoe waardevol dit is om mekaar se laste te dra en vir mekaar te bid en nie op te hou nie. Net gister het ‘n goeie vriend met sy vrou ons kom besoek en ons vertel dat hy al sy vriende laat weet het om vir my te bid. Dit is ons werk om dag en nag vir kosbare siele en ons vriende, familie, die werk, medewerkers en vir ons distrik te bid. Die Here help ons al is my kragte nog maar min om dit te kan doen!

Ook het die Here familie en vriende opgewek wat ons in hierdie tyd finansieël kom ondersteun het, sodat ons al ons maandelikse rekeninge kon betaal en ook al die geweldige mediese uitgawes wat nie alles deur ons mediese fondse gedek word nie. Die behandeling wat ek nou ondergaan is duur, sommer R1100 per behandeling. Ons sien hierdie saak as ‘n skool waarin die Here ons geplaas het - as ‘n uitdaging - om HOM vir groot dinge te vertrou met groot vrymoedigheid! Ons ondervind gedurig Sy tere teenwoordigheid en aanmoediging om nie moedeloos te word nie en om in die gebed te volhard!

29 Junie se STREAMS IN THE DESERT het ons diep geraak:

“Daar is ‘n heersende gedagte dat die krag van God in ‘n mens se lewe ons moet uitlig BO beproewinge en konflik. Die feit is dat die krag van God altyd konflik en stryd bring. Ons sou gedink het dat Paulus op sy sendingreis na Rome beskerm sou moes word teen storms en vyande, maar dit was een lang, harde stryd met Joodse vervolging, verwoestende storms en giftige slange. Boonop moes hy op dryfhout uitswem na die eiland Malta. Was dit soos ‘n Almagtige God dit doen? Ja, net soos Hy! Paulus vertel van sy geweldige konflik van die begin af, nimmereindigende konflik, voortdurende weerstand waarin hy altyd oorwinnend anderkant kon uitkom deur die krag van Jesus Christus in 2 Kor 4:8-10: “In alles word ons VERDRUK, maar ons is nie teneergedruk nie; ons is VERLEË, maar nie radeloos nie; VERVOLG, maar nie verlate nie; NEERGEWERP, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die DODING van die Here Jesus in die liggaam om, sodat die LEWE van Christus in ons liggaam openbaar kan word.” VYF prentjies word geskilder. Die eerste, van alle kante omsingel sonder om vergruis te word; die tweede, sonder ‘n weg, maar nie sonder ‘n uitweg nie; die derde, die vyand warm op die spoor, maar met ‘n geweldige Held aan sy sy; die vierde is meer aanskoulik en dramaties, die vyand het hom ingehaal, hom geslaan, hom neergewerp op die grond. Maar dit was nie ‘n fatale hou nie; hy was instaat om weer op te staan. Dus, neergewerp maar nie oorwin. Die vyfde dra hy altyd die doding van die Here Jesus in Sy liggaam om, maar hy sterf nie, want ook die LEWE van Christus kom tot sy redding en hy leef in die lewe van ‘n Ander totdat sy lewenswerk voltooi is.

Die rede waarom so baie maklik misluk in hul ondervinding van Goddelike genesing is omdat hulle verwag om dit te verkry sonder stryd, en wanneer die konflik kom en die geveg baie lank duur, dan word hulle mismoedig en gee oor. Dit wat die moeite werd is kos altyd iets in die ekonomie van God. Daar is geen  goedkoop goed op die Hemelse mark nie. Die Versoening het God alles gekos en alles wat die moeite werd is om te verkry, is duur. Harde plekke en omstandighede is die ware skool van geloof en karakter, as ons wil uitstyg bokant blote menslike krag in sterflike liggame, moet dit gebeur deur die proses van konflik, wat met reg genoem kan word: die geboortepyne van nuwe lewe.” Rom 8:11 “As die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon..”  Uittreksels van ‘n kosbare lied se woorde bemoedig ons:

 

“Some through the waters, some through the flood, some through the fire,

but ALL through the BLOOD!!

Some through great sorrow, but God gives a song in the night’s season and all the day long….

Sometimes in the valley in the darkest of night, God leads His dear children along…

Some through the waters, some through the flood, some through the fire,

but ALL through the BLOOD!!

Though sorrows befall us and Satan oppose, God leads His dear children along.

Through grace we can conquer, defeat all our foes, God leads His dear children along.

Some through the waters, some through the flood, some through the fire,

but ALL through the BLOOD.…!!”

SPESIALE GEBEDSVERSOEKE:

1. Hiermee wil ons vir u vra dat u ‘n spesiale tydjie sal afsonder om vir my en my vrou en vir hierdie distrik te begin bid. Al kan ons nog nie by u uitkom nie, bid ons vir u en u dorp hier in die Noord-Kaap. Ons harte verlang dat die Here ‘n nuwe werk in Sy kinders se harte sal begin wat Sy lieflike Naam sal kom verheerlik.

Beproewing het altyd die manier om ons na die genadetroon toe uit te dryf, waar ons HOM kan aanskou as Verlosser wat verag, verworpe en verlaat was deur mense. Een wat die volle prys van Versoening betaal het en in ons plek gesterf het, terwyl ons dit nie eers verdien het nie. God se verlossingsplan toon Sy gróót liefde en ontferming teenoor die mens wat in sonde verkeer en in ellende versink is.

2. Bid asseblief dat die Here deure en harte vir ons sal kom oopmaak in elke dorp: Gebed is die wegbereider, die linies wat vooruitgaan! As ons nie bid nie, sal ons nie ontvang nie. In 1883 in China het jong bekeerlinge skaars gered, in hulle nood hul tot God gewend in die gebed –dag en nag– en vir hul bure en omgewing begin bid. Die uiteinde was die redding van kosbare siele, oop huise en harte vir die Evangelie. So het die evangelie omgewings binnegedring ten spyte van geweldige teenstand. Mense het gered geword, is van opium-verslawing verlos en het selfs genesing ondervind wanneer hulle met hul afgode gebreek het. Die Naam van Jesus het vir hulle die kosbaarste besitting geword!!

Ons wil ook elkeen innig bedank wat ons finansieël kom ondersteun het in ons beproewing en ook ter wille van die Evangelie van Jesus Christus. Ons het anonieme donasies ontvang van Kimberley R50; R200 (in ons posbus).

 

In Sy diens

Dawie & Alta Grové

 

Bankbesonderhede: Afrika Evangeliese Bond, ABSA, Rek. 4049627532, Takkode 500-902