Log in
Namibie Nuusbrief Okt-Des 2011 PDF Print E-mail
News Letters
Written by AEB Namibia   

Liewe vriende

Oom H.T. de Villiers het in sy dagboek dié paragraaf geskryf oor die woorde van verwondering van die dissipels opgeteken in Markus 4 toe die HERE die storm stilgemaak het. “Wie is Hy tog?” (Mark. 4:41). “Een mooi antwoord op die vraag van Sy dissipels is: Hy is die Een wat, toe die storm in Sy eie lewe toppunt bereik het, vir Sy vreesbevange dissipels kon sê: “My vrede gee Ek vir julle.”

Vrede te midde van storm! Hier is nog ‘n mooi antwoord: Hy is die stilmaker van storms. Hier het Hy binne vier-en-twintig uur vier storms stilgemaak. Lees maar verder in die vyfde hoofstuk van die besetene van Gadara. Hy sit aan die voete van Jesus gekleed en by sy verstand. Die storm in sy kop is stil. Skaars was Hy weer terug aan die ander kant, of die owerste van die sinagoge val aan Sy voete neer. Daar is ‘n storm in sy hart omdat sy dogtertjie op sterwe lê. Jesus het gegaan en die storm stilgemaak. Op die weg daarheen kom ‘n vrou wat twaalf jaar lank ‘n storm in haar liggaam verduur het, en raak die soom van Sy kleed aan, en nog ‘n storm word stilgemaak.

Mag ons Hom so leer ken en nie aanstoot neem as Hy nie dadelik gehoor gee, en skynbaar niks doen om te help nie. God het Job deur die storm laat gaan – ‘n beter mens. Hy het toegelaat dat Johannes die Doper in die storm sterf. Altwee is vandag in die hemel en het al seker dikwels met mekaar gesels oor die wonderlike weë van God wat hulle op die aarde nie altyd kon begryp nie.

“En daar het ‘n groot stilte gekom, en vrees het hulle oorweldig.” Dit moet die uitwerking van die storm wees: groter stilte, dieper vrede, eerbiedige vrees.

NUUS UIT DIE VELD

Die HERE het ons gelei en deurgedra sedert ons laaste brief en ons gee aan Hom al die eer! Die Windhoek-geleenthede begin Augustus was geseënd. Ons was 7 bymekaar vir die Jeug Bybelstudie. Die Maanddiens was besonders goed bygewoon. Die eerste jeugkamp net buite Rundu 11-13 Aug was deur 70 kinders bygewoon. Ek het drie baie goeie preekgeleenthede gehad. Daarna het ons 14-17 Aug boere Suid van die ‘Rooilyn’ besoek in die Mururani-omgewing. Die tweede jeugkamp 19-21 Aug was deur 35 kinders bygewoon by n’Kwazi lodge buite Rundu. Ek & Annelize het saam 4 geleenthede gehad om die Woord reguit met die jongmense te deel. Van daar is ons na Tsumeb 22-24 Aug. Na besoekwerk het ons ‘n aanddiens in die Nasarener kerk gehou en die tweede aanddiens na die ouetehuis geskuif waar ons 8 toehoorders gehad het. Die HERE het die twee aanddienste geseën en die boodskappe gebruik. Annelize het ‘n kinderdiens gehou by die SOS kinderhuis vir 50 kinders. Ek kon weer by AGRA vir 7 manne ‘n boodskap bring. Die man saam met wie ek ‘n paar jaar gelede, na ‘n opening daar saam gebid het vir herstel, staan nog geestelik sterk. ‘n Ander het getuig dat hy die boodskap wat ek toe gebring het steeds kan onthou en dit al by sy kerk “oorgepreek” het.

Die Bybelstudiekamp op Emmanuel 2-4 Sept was baie geseënd al was daar net ‘n handvol mense van die omgewing. Mnr de Bruin het kosbare lesings oor die Tabernakel gebring m.b.v. ‘n dataprojektor.

PROGRAM

Ek was reeds ‘n tyd lank siek met die aanbreek van die konferensie. Ons is direk na die konferensie na die RSA waar ek met Malaria gediagnoseer is. Die Dokter kon ‘n ander virus later identifiseer en ek’s met drie antibiotika’s, Malaria-medisyne en ‘n handvol ander pille behandel. ‘n Dag na my afgeboekte tyd verstryk het, het ek ‘n nuwe virus gekry wat my behoorlik platgetrek het. Dankie vir u gebede en belangstelling. Ons hoop om binnekort terug te keer na Windhoek as die HERE wil. Die gevolg van die siekverlof is dat ons die gebruiklike Jeug Bybelstudie 29 Sept asook die  Manne-ontbyt & Maanddiens 1&2 Okt is afgestel. Ek het beplan om vroeg in Oktober in die pad te val en die area van die Hochveld tot onder in Karasburg te besoek van plaas tot plaas wat ‘n besoek aan Ghanzi-distrik (Botswana) insluit. Ek sal die toer moet uitstel en dit heel moontlik verkort.

 

  • Einde Okt & middel Nov - Ons beplan om, as die HERE wil, gedeeltes van die bogenoemde areas te besoek. Ons moet ook aandag gee aan die groot huis van die Hoofkwartiere vir die moontlikheid om dit te verhuur.
  • 3 Nov – AEB Jeug Bybelstudie, 18:30, 35 Church str. Windhoek.
  • 4&5 Nov – AXIS ACE Tuisonderrig kamp, Rock Lodge, Okahandja.
  • 6 Nov – AEB Maanddiens, 15:30, NG Moedergemeente Kerksaal, Windhoek.
  • 7 Nov – Opening by St. Paul’s College, 7vm, Windhoek.
  • 9-14 Des – AEB Pelgrimdienste, “Samekoms”, RSA.

 

AEB Nasionale Konferensie 14-18 Desember 2011

Samekoms Konferensie Sentrum, Middelburg, Mpumalanga, RSA.

Sprekers: Keith Daniel & Rudi Beukes

Besprekings: Frans & Erica Gericke Tel: +27 12 361 2453 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Ons neem ons gebruiklike jaarlikse verlof 19 Desember tot middel Januarie 2012 wanneer ons na Windhoek terugkeer vir die nuwe jaar se arbeid, as die HERE wil.

Onthou om te gaan loer na ons kampgronde net buite Hermanus se webblad sou u dalk na die Kaap gaan in Desember en ‘n plekkie soek om bekostigbaar te gaan uitspan! www.amanahermanus.co.za

Ons wens u nou reeds ‘n geseënde laaste deel van die jaar toe en veral vir die Christusfees tydperk in Desember. Hou kontak met ons of volg ons op facebook: “AEB Friends & Connections” en/of “Pilgrims 4 Him” se bladsy. Besoek ook gerus ons webblaaie www.a-e-b.org & www.pilgrims4Him.com!

In Christus se heerlike diens

Taylor, Annelize en Marlene

Bankbesonderhede: AEB, Bank Windhoek, Tjek, Rek nr. 103 483 6101, Takkode 486 372.