|
Liewe Vriende
Net so vir oulaas ‘n kort briefie voor die jaar om is. Ons wil die HERE al die eer gee vir die manier waarop Hy in harte gewerk het deur die jaar hier in ou Suidwes. Dit bly die grootste voorreg om in die HERE se diens te wees en ons harte begeer om Hom te sien soos HY is. Maranata, kom gou HERE Jesus!
Ons is so dankbaar vir ons gesondheid om die laaste tyd te kon arbei na my siekverlof. Die HERE het ons albei krag gegee vir die laaste skof. Ons is sopas terug van ‘n geseënde toer na Ghanzi, Botswana 14-21 Nov. Johan & Manda Venter het op hul harte gevoel om ons te nooi en hulle het drie huisdienste by drie punte in die NG Gemeente se wyke gereël. Die opkomste was goed en die HERE het die dienste geseën. Ek het ook die voorreg gehad om tydens die Erediens in die kerk die Woord te bring Sondagoggend. Ons het ook geleenthede gehad om die Woord te bring tydens die biduur in die kerk, by die Sekondêre Skool, Ghanzi Hardeware, Bank Gaborone, Ghanzi Gevangenis, Kalahari Arms Hotel en vir die werkers op die plaas “Dorsland”. Ons harte is opgewonde oor die manier waarop ons ontvang is in die gemeenskap. Ons beplan om, soos die HERE wil, weer daar besoek af te lê volgende jaar.
Voor die Botswana-toer het ons heelwat opknappingswerk in die Hoofkwartier gedoen. Ek kon ‘n kort toer deur die Hochveld-area inpas en het goeie plaasbesoeke gehad. Die Kerkraad van die Otjiwarongo NG Gemeente het my die geleentheid gegee om ons visie vir ‘n veldtog daar met hulle te deel en ons kon datums vir Maart 2012 vasmaak wanneer ons saam die veldtog gaan aanpak, soos die HERE wil. Ons 3de Jeug Bybelstudie was geseënd asook ons laaste Maanddiens vir die jaar. Ons was weer betrokke by die AXIS ACE Tuisonderrigkamp by Rock Lodge 4-6 Nov en dit was weereens ‘n goeie geleentheid. Ek het ook die jaar se openinge by St. Paul’s College afgesluit met ‘n opening 7 Nov.
Na ons laaste Admin en praktiese verantwoordelikhede vertrek ons volgende week na die RSA vir ons Nasionale konferensie & jaarlikse verlof, waarna ons baie uitsien!
Baie baie dankie vir u ondersteuning deur die jaar, u voorbidding, belangstelling, finansiele bydraes waarvan ons afhanklik is en bly, soos die HERE deur Sy kinders voorsien. Bid vir die saad van die Woord wat deur die jaar in ‘n droë land gesaai is. Bid ook vir die wonderlike oop deure vir 2012 DV! Ons huidige werkspermit verval 15 Okt 2012; BID NOU REEDS VIR ONS HERAANSOEK ASB!
AEB NASIONALE KONFERENSIE 14-18 DESEMBER 2011
Samekoms Konferensie Sentrum, Middelburg, Mpumalanga, RSA
Sprekers: Mr. Keith Daniel, Ds Rudi Beukes, Mnr Keith Waterson
Navrae: Frans & Erica Gericke by +27 82 359 1557 of
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
In Christus se heerlike diens
Taylor, Annelize en Marlene
Bankbesonderhede: AEB, Bank Windhoek, Tjek, Rek nr. 103 483 6101, Takkode 486 372. |